Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 12 DESEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Vernon Short, ZS1KS, op Sondagoggend 12 Desember stil geword het. Vernon het ’n lang lyding aan Alzheimer se siekte en ook ander gesondheidsprobleme gehad. Ons innige simpatie aan sy vrou Jessie, kinders, stiefkinders, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

MONITERING VAN RUIMTEWEER NOU ’n ERNSTIGE AANGELEENTHEID

MEER OOR LISENSIEGELDE

10 mW SEIN OP 8,970 kHz OOR 2 873 km GEHOOR

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

MONITERING VAN RUIMTEWEER NOU ’n ERNSTIGE AANGELEENTHEID

Vir Lee-Anne McKinnell, ZS2LAW, waarnemende Besturende Direkteur van die HMO, is die inwerkingstelling van die Ruimteweersentrum by die Hermanus Magnetiese Observatorium ’n vierjaardroom wat waar geword het. “Dit het begin met ons aansoek om internasionaal erken te word as die waarskuwingsentrum vir ruimteweer vir Afrika. Alhoewel daar ruimteweerwetenskaplikes in ander dele van ons vasteland is, is ons die enigste ruimteweerwaarskuwingsentrum”, het sy aan SARLNUUS gesê.

In haar openingsrede op 10 Desember 2010 het die Minister van Wetenskap en Tegnologie gesê dat die totstandkoming van die Ruimteweersentrum Suid-Afrika se wetenskap en tegnologie direk as die ‘grootste uitdaging’ aanspreek. “Hierdie sentrum sal noodsaaklike inligting verskaf vir globale ruimtewetenskap en tegnologie, sowel as vooruitskattings en voorspellings ten einde ons groeiende en toekomstige satellietindustrie te beskerm. Meer spesifiek, sal dit ’n diens aan aardwaarneming, kommunikasie, navigasie, verdediging- en ingenieursektore verskaf”.

Die Ruimteweersentrum sal bydra tot ander groot uitdagings soos die van energiesekuriteit, deur sy potensiaal om ’n vaardigheidsbasis te ontwikkel en belangstelling en begeerte onder jongmense aan te wakker om aan wetenskap en tegnologie deel te neem.

Hierdie projek sal ons land in ’n posisie plaas as leier in ruimteweer op die Afrikakontinent en toelaat vir die ontwikkeling van projekte wat parallelle inisiatiewe tussen verskillende Afrikalande sal skep en ons van ’n leierskapfokus vir gemeenskaplike samewerking sal voorsien.

“Daar is alreeds ’n moontlike samewerking vir ’n ruimtesatelliet tussen Indië, Brazilië en Suid-Afrika om voort te gaan binne die konteks van die IBSA-ruimteweersatelliet”, het die Minister gesê.

“Ons werk nou saam met wetenskaplikes in Afrika wat data aan ons sal voorsien en in ruil sal ons ruimteweerinligting verskaf wat hulle in hulle navorsing sal help,” het Lee-Anne McKinnell gesê. “Die data wat ons van hulle insette sal genereer en wat uit ons sentrum sal uitkom, sal ons met ruimteweertoestande help. Die ander 12 streekswaarskuwingsentrums kom byeen om data wat hulle gebied dek te verskaf en ons werk om dit vir Afrika te bereik”.

MEER OOR LISENSIEGELDE

OKOSA bring sy lisensieperiode in ooreenstemming met sy finansiële jaar wat van April tot Maart loop. Radioamateurs sal ’n rekening vir R6,75 wat die tydperk Januarie tot Maart dek, ontvang. Gedurende Maart sal ’n rekening vir die tydperk 1 April 2011 tot 31 Maart 2012 uitgereik word. Wag asb. vir die rekeninge en betaal die bedrag daarop aangetoon. Rekeninge vir herhalers en bakens sal soortgelyk behandel word en die bedrag sal vir Januarie tot Maart 2012 wees.

DIE KOMPETISIEHANDBOEK VIR 2011 NOU OP DIE WEB BESKIKBAAR

Die uitgawe vir 2011 van die SARL se kompetisiehandboek is nou op die webwerf beskikbaar. Ten einde die handboek, wat in PDF-formaat is, af te laai, gaan na die kompetisie-afdeling van die web of klik op die koppeling op SARL TODAY op die tuisblad. Die handboek wat voorheen as die blouboek bekend was, is volledig hersien en opgegradeer en is ’n moet vir elkeen wat van voorneme is om aan kompetisies deel te neem. Dit is nog ’n ander gratis diens vir radioamateurs deur die SARL.

ONTLUIKENDE TEGNOLOGIE

10 mW SEIN OP 8,970 kHz OOR 2 873 km GEHOOR

’n Baie lae frekwensie sein, 8,970 kHz, wat deur DK7FC uitgestuur word, is oor ’n afstand van 2 873 km deur 4X1RF in Haifa, Israel, ontvang. Ontvangs van hierdie super lae frekwensies, wat binne die oudio gehoorbereik van die menslike oor val, vereis penantennas, lae ruis voorversterkers en gesofistikeerde dekoderingsagteware. Nietemin, die feit dat DK7FC se 100 mW effektiewe uitgestraalde krag oor so ’n groot afstand deur 4X1RF gehoor en opgeneem is, toon dat transatlantiese amateur-BLF-ontvangs tog in die nabye toekoms moontlik mag wees.

Volgens ’n artikel deur DL6QA, wat deur die DARC gepubliseer is, is die eienskappe van die baie lae frekwensie gedeelte van die frekwensiespektrum (BLF, 3 tot 30 kHz), baie min verswakking, hoë fase- en frekwensiestabiliteit en hoë sein na ruis verhouding. Dus word BLF-voortplanting vir baie praktiese toepassings gebruik soos frekwensiestandaardisering, horlosiesinchronisasie, radionavigasiebakens en langafstandkommunikasie.

BLF-golwe kan ook water tot ’n diepte van ongeveer 10 tot 40 m indring, afhangende van die frekwensie wat gebruik word en die soutinhoud en temperatuur van die water. Dit word ook gebruik vir baie langafstand radiokommunikasie met duikbote naby die oppervlakte.

Kommersiële BLF-radiostasies gebruik normaalweg hoë krag senders wat wissel vanaf 5 tot 50 kW en meer. Te wyte aan uitstekende grondvoortplantingseienskappe van BLF wanneer vertikaal gepolariseerde golwe uitgesaai word, word van baie hoë antennatorings gebruik gemaak. Grondgolfvoortplanting word beïnvloed deur die geleidingsvermoë en diëlektriese konstante van die grond. By 10 kHz kan BLF-radioenergie die grond tussen 2,5 en 150 m diep indring. Die geleidingsvermoë en en diëlektriese konstante hang af van die soort oppervlakte waaroor die grondgolf voortplant (byv. seewater, droë sanderige plat kusvlakte, moerasagtige gelyk plantasiegrond, bergagtige of heuwelagtige grond, stede ens.).

As gevolg van die smal bandwydte beskikbaar in die BLF-band van 10 tot 30 kHz, is dit nie moontlik om oudioseine uit te saai nie, daarom word die meeste boodskappe gestuur d.m.v. alfanumeriese data teen baie lae greeptempos.

Daar is ’n groot groep belangstellendes in Europa wat BLF bestudeer. Is daar persone in Suid-Afrika wat belangstel om so ’n groep in die lewe te roep? Hannes Coetzee, ZS6BZP, het onlangs ’n oproep op amateurs gedoen om by hom aan te sluit vir eksperimente op 137 kHz, ’n BLF-band wat binnekort in Suid-Afrika beskikbaar sal kom. Diesulkes, stuur ’n boodskap met julle kontakbesonderhede aan armi@sarl.org.za met BLF in die onderwerplyn.

HF-VOORTPLANTING

Jammer, maar ons het nie vandag ’n opdatering nie, maar ons glo dat daar geen drastiese verandering in die heersende toestande gaan plaasvind nie. Nogtans, gaan kyk na www.spaceweather.co.za vir die jongste inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Desember – Laaste dag vir indiening van logstate vir die PEARS HF QSO-
geselligheid aan contest@pears.ham-radio-op.net;
31 Desember – Laaste dag vir indiening van besonderhede vir insluiting as lid van SA AMSAT se satellietprojekspan aan saamsat@intekom.co.za;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
20 Januarie - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir referate en opsommings vir Ruimtesimposium 2011 na saamsat@intekom.co.za;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Halt, moet nognie afskakel nie, hier volg die laaste item in vandag se bulletin en dit kom van ZS4BS, die President van die SARL:

“Die jaar 2010 is amper verby en baie SARL-lede is met vakansie en geniet kwaliteittyd saam met hulle familie en geliefdes. Ons dink terug oor die jaar en onthou die vele hoogtepunte op die SARL-dagboek en ook op klubvlak. Ons moet ook vir 'n oomblik stilstaan en dink aan ons vriende wat deur die jaar stil sleutels geword het.

Wat hou 2011 vir ons in? Vroeg in die nuwe jaar word die nuwe radioregulasies gepromulgeer, in April word die SARL se Nasionale Konvensie in die Vaaldriehoek gehou en in Augustus is die SARL die gasheer vir die 22ste driejaarlikse Algemene Vergadering van Streek 1 van die Internasionale Amateurradio-unie, die eerste konferensie daarvan op die Afrika-vasteland.

Namens die Raad van die SARL, wens ek u en u familie 'n geseënde Kersfees toe en mag 2011 gevul wees met goeie gesondheid en sukses. Aan ons Joodse radioamateurs sê ek "Happy Hannaukah" en aan almal wens ek 'n genotvolle vakansie toe”. Aldus Dennis, ZS4BS, maar aan jou ook dank en aan jou en jou familie beste wense van ons almal.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George,ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003